Skip to content

Stilte

Daar’s ‘n eindelose stilte
Wat tussen ons bestaan
Dis so droog soos ‘n woestyn
En so nat soos die oseaan

Dis so klein soos ons drome
En so groot soos die maan
‘n Ruimte sonder klank
Word tussen ons geraam

Ek sien dit in jou oë
Jy herken dit in my treë
Ek ruik dit aan jou asem
Jy proe dit in my tee

Ek wil jou nie bekommer
Jy wil my beskerm
Ons bly maar liewers stil
Dis beter as om te kerm

‘n Vergete fluister breek die stilte
Die leegheid verdwyn
Woorde word duidelik
Sagte sinne verskyn

Net soos die see in ‘n skulp klink
Of die wind ritsel deur blare
Besef ons waar die verlang lê
Na ‘n leeftyd se jare

Ons tonge en ons lippe
Vorm verhale van vroeë dae
Wat weerklink tussen ons lywe
En tot rus kom op ons glimlae

“Wat as ons die sprokies weer vergeet?” vra jy
En ons stemme gaan lê?
En wat as die stilte ons vreet?
As ons niks oor het om te sê?”

“Onthou dan hierdie oomblik,” sê ek
En hoe ons woorde ons omring
Die dag dat ons ophou praat
Is die dag dat ons begin sing”

Published inPoetry

One Comment

  1. I I understood most of it and It’s lovely. THANKS.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *